Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA NUUS SONDAG 11 DESEMBER 2016

Goeie môre en welkom by die weeklikse nuus uitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, gelees deur ________________________ (jou naam, roep sein en QTH)

Die Suid-Afrikaanse Radioliga saai elke Sondag nuus bulletins in Afrikaans sowel as Engels om 08:15 en 08:30 plaaslike tyd onderskeidelik uit op HF sowel as op verskeie BHF- en UHF-herhalers. Hierdie uitsendings word ook via Echolink herlei deur ZS0JPL.

‘n Oudio opname sowel as ‘n teks weergawe kan van die Liga se webblad, www.sarl.org.za,afgelaai word, en jy kan ook daar inteken om nuwe bulletins per e-pos te ontvang.


STIL SLEUTEL

Dit is met leedwese dat ons kennis neem van die afsterwe van Martin Nortman, ZS6TMN, op Saterdag 3 Desember 2016, na ‘n lang stryd teen kanker.


Martin was ‘n voortreflike voorbeeld vir ander amateurs en het die Oos Rand tak, Kempton Amateurradio Tegniese vereniging en HAMNET Gauteng Suid met sy tyd, geld en kennis ondersteun. Altyd bereid om iets nuut te leer en dan die kennis ook met ander te deel.

Ons innige simpatie aan sy eggenoot Mina, ZS6MNT, familie en vele amateur vriende.

Rus sag ou vriend tot ons paaie weer kruis

PAUSE


IN DIE NUUS VANDAG

NUWE BANDPLAN GEPUBLISEER

SPESIALE HERDENKING

2017 AJV KLUB AANGEWYS

EN NOG KLUBNUUS

Bly ingeskakel vir meer hieroor asook ander interesante nuus items.


** Vrydag het OKOSA die voorgestelde Nasionale Frekwensie band plan as deel van ‘n 230 bladsy dokument in ‘n lywige 500 bladsy Staatskoerant gepubliseer. Hierdie band plan stel beslis uitdagings aan AmateurRadio, wat teen 27 Januarie aan gespreek en gedokumenteer moet wees. Dit word dan gevolg deur ‘n reeks openbare verhore op 2 en 3 Februarie. Na verwagting sal OKOSA die voorgestelde nasionale band plan binnekort op hul webtuiste www.icasa.org.za sal publiseer. Hou gerus die SARL webblad dop vir meer inligting soos en wanneer dit beskikbaar word.


** Daar is darem goeie nuus ook, OKOSA het ingestem dat Suid Afrikaanse Radio Amateurs mag voortgaan met die gebruik van 5260 en 5290kHz. Sedert die oorspronklike ooreenkoms ten einde geloop het op 31 Oktober 2015 was daar verskeie tussen tydse reelings in plek. OKOSA het nou egter bevestig dat SARL lede mag voortgaan om hierdie frekwensies te gebruik vir die volgende 8 maande

** Teen Woensdag 14 Desember sal die SARL regulatoriese span tydens ‘n vergadering met OKOSA redes aanvoer oor hoekom Amateurradio toerusting nie onderworpe behoort te wees aan die tipe goedkeuring van die organisasie nie.

Hierdie is inderdaad ‘n baie bedrywige tyd vir die Regulatoriese bestuurder en sy span. Meer inligting sal intussen gereeld op die SARL webblad bygewerk word deur die span wanneer daar vordering met die onderskeie voorleggings gemaak word.

*** Vandag, 11 Desember 2016, herdenk ons die ontvangs van ‘n radio sein by Ardrosan in Skotland. Hierdie sein is gestuur vanaf die amptelike toets stasie van Minton Cronkite, 1BCG, geleè in ‘n klein geboutjie op die hoek van Clapboard Ridge Road en North Street in Greenwich, VSA. Die ontvangs van hierdie sein het die eeu van wêreld wye kommunikasie ingelei. Die ontvangs van die 1BCG sein was deel van die tweede reeks trans Atlantiese toetse deur die ARRL. Die ARRL se gekose ontvangs toestel was ontwerp deur Paul Godley, 2ZE. Godley het ook na die Verenigde Koninkryk gereis om toesig te hou oor daardie deel van die toetse


Godley was vergesel deur die Marconi Maatskappy se Distriks Inspekteur, D.E. Pearson. Saam het hul die wind en reen in die veld in Ardrossan, Suidwes van Glasgow, getrotseer. Die twee het hul toerusting in ‘n tentjie staan gemaak en gebruik gemaak van ‘n superheterodyne regeneratiewe ontvanger. As antenna het hul ‘n 1,300-voet Beverage antenna 12 voet bokand die grond gebruik. Daar was ook batterye en ander toerusting gewees. Die gelykgolf seine deur 1BCG, met ‘n sender wat ontwerp en vervaardig was deur lede van die Radio Klub van Amerika is uitstekend ontvang op 230 tot 235 meter of dan 1,3 mHz. Dit was egter nie die enigste seine wat hul ontvang het nie. Teen die einde van die toetse is 18 ander gelykgolf seine ook geidentifiseer.


*** Die sporadiese E seisoen in die Suidelike half rond maak gewoonlik sy verskyning in gedurende Desember en piek gedurende Januarie met baie sterk FM seine op die 50 mHz band. Die openinge kan egter baie maklik gemis word aangesien dit soms net ‘n half uur duur voor die toestande weer verswak. Goeie openinge kan egter tot solank as ‘n volle uur duur. Jy moet dus jou vinger stewig op die BHF pols hou en fyn oplet na die openinge.

Afdeling 1 werk gereeld afdelings 5 en 6 tydens hierdie toestande terwyl Afdeling 2 al afdeling 6 en selfs Namibië gewerk het. Afdeling 6 stasies het al verskeie kere stasies in 9U5D gewerk oor afstande van tot 2269 km. Tydens baie goeie openinge, ook genoem Super E’s, het toestande al vir tot 3 ure gunstig gebly en het Hannes Vorster, ZS2BE, en Owen Wheeler, ZR2HZ, in Port Elizabeth kontak gemaak met Kosie du Buisson, ZS3E, by Outjo Namibia op 50 MHz met S9 plus seine. Verlede jaar is daar ook kontak gemaak tussen VK en ZL stasies tydens openinge tot op 144mHz en 432 mHz, wees dus op die uitkyk vir daardie bakens en vroeë seine oor lang afstande op die hoër bande.


**** Die Wes-Rand AmateurRadio klub het 'n voorstel aan die Raad van die Suid-Afrikaanse Radioliga ingedien om die 2017 Nasionale Konvensie aan te bied in die Wes-Rand. Die Raad het die voorstel aanvaar. Die klub is besig met onderhandelinge vir venues en sal Liga lede vroeg in die nuwe jaar verwittig van die datums.

Die Raad nooi Klubs uit wat graag gasheer vir die 2018 SARL Nasionale Konvensie wil wees om 'n mosie in te dien by die 2017 algemene jaar vergadering met hul voorstel.


**** Tydens die AJV van die SABC klub, gehou op 2 November 2016, is die volgende persone tot amp verkies.

Voorsitter: Pieter ZS6PVW
Vise Voorsitter: Yvonne ZR6TBL
Sekretaresse: Miemie ZR6JL
Tesourier: Lizette ZS6LZT
Webmeester: Marianne ZS6ANA
Sosiaal: Magda ZS6MVW
Tegnies en herhalers: Pieter ZS6PVW & Mark ZS6MAE
Tegiese assistente: Magda ZS6MVW & Riaan ZS6BAR

Die AJV is gevolg deur ‘n bring en braai tesame met ‘n heerlike kuier. Ons dank aan die uit tredende komitee en sterkte aan die nuwe komitee vir die jaar wat voorlê

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag gaan wees. Daar is bykans geen kans vir ernstige sonfakkels nie.

Diegene wat hulle eie frekwensie voorspellings wil doen, kan 'n verwagte effektiewe sonvlektelling van minder as 5 vir die week gebruik.

Amateurs kan goeie openinge op die 15 tot 20m bande verwag.

Besoek gerus die webtuiste spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.

Dagboek van gebeure

11 Des – Jeug net
17 Dec – Bo Karoo Amateur radio klub afsluiting en AJV
25 Feb 2017 Wes Rand Vlooi mark
4 Mar 2017 Kaapstad mega vlooi mark

Ons sluit af met ‘n kort opsomming van die belangrikste nuus item

OKOSA het die jongste nasionale band plan in ‘n 230 bladsy dokument binne die 500 bladsy mega uitgawe van die Staatskoerant gepubliseer. Op 14 Desember vergader die SARL regulatoriese komitee met OKOSA waartydens die wenslikheid van Amateurradio se toevoeging tot tipe goedkeuring bespreek sal word.

Dit bring ons aan die einde van hierdie bulletin.

** Die Suid-Afrikaanse Radio liga se nuus diens nooi klubs en individue uit om nuus brokkies van belang vir radio amateurs en kortgolf luisteraars in te dien. Plaas nuus berigte indien moontlik, in beide Engels en Afrikaans op die Suid-Afrikaanse Radio liga webtuiste onder die 'news inbox' skakel nie later as die Donderdag wat die bulletin datum vooraf gaan nie.

Luister elke Sondag oggend om 10:00 plaaslike tyd na "Amateur Radio Today". Daar is herleiding op 7 082 kHz laer syband, 7 205 en 17 660 kHz AM en verskeie herleidings op BHF en UHF frekwensies regoor Suid-Afrika. 'n oudio opname deur Dick, ZS6RO, is ook beskikbaar. 'n Heruitsending vind op Maandae om 18:30 plaaslike tyd op 4 895 kHz plaas.

Ons ontvang graag jou sein verslae, kommentaar en voorstelle, stuur 'n e-pos aan artoday@sarl.org.za. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateur frekwensies.

Jy het geluister na 'n nuus uitsending van die Suid-Afrikaanse Radio liga, saam gestel deur Dawie Conradie, ZR6DHC, geredigeer deur Viv Dold, ZS6VD, en gelees deur ...........................................................

Die Afrikaanse nuus span groet nou en wens jou `n mooi week toe. Totsiens

/EX








Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003